| PUBLISHER LINKS |
|
||||||||||||||
| ARTICLE TITLE: eBroker Nuus / News | 02/24/09, 12:14 PM |
| Page views: |
| Author: Manus Moolman for My eBroker |
|
In tye van ekonomiese onsekerheid is dit altyd die moeite werd om na die insigte van ervare portefeuljebestuurers te luister. Hieronder volg die bydrae van twee van Noble Private Portfolios se direkteure, Piet de Jongh en Pieter van Zyl. BESTUURSVERSLAG: FEBRUARIE 2009
Wat as ’n Amerikaanse probleem begin het weens oormatige uitlening in die subprima mark het in ’n wêreldwye probleem geëskaleer en die stabiliteit van ’n uiters geïntegreerde finansiële wêreldmark bedreig.
Toe die euforie in die finansiële sektor tot ’n einde gekom het, het verbruikersbesteding deur huishoudings die eerste komponent in die nasionale rekenings geword om ’n groot daling te toon. Nie net het die groeikoers gedaal nie, maar in baie gevalle, soos in die VSA en die VK het totale verbruikersbesteding in die private sektor gekrimp. Besondere skerp dalings is in aankope in duursame verbruikersgoedere, soos motorkarre, weerspieël.
‘n Onvermydelike daling in nywerheidsproduksie het gevolg. Daar word geraam dat in die wêreld as ’n geheel produksie deur die vervaardigingsektor in die vierde kwartaal verlede jaar met 20% gedaal het. Kommoditeitspryse het oor die algemeen skerp gedaal, met die ergste voorbeeld dié van die prys van ruolie.
Werkloosheid neem teen ’n skrikwekkende tempo toe, veral in die Verenigde State waar ongeveer 500 000 mense hul werk tydens elk van die afgelope paar maande verloor het.
Teen hierdie agtergrond is dit nie verbasend nie dat gedurende die tweede helfte van verlede jaar die tempo van verandering in bruto binnelandse produk (dit is die totale aanwyser van totale ekonomiese aktiwiteit) in negatiewe gebied in lande soos die VSA, VK en Duitsland beweeg het. Die grootste deel van die nywerheidswêreld bevind hulle nou in ’n resessie.
In die lig van die erns van die aanpassings wat in die finansiële en reële sektore van die ekonomieë van die hoofnywerheidslande plaasgevind het, het owerhede wat vir ekonomiese beleid verantwoordelik is tot die strydperk toegetree met ongekende ondersteuningsbedrywighede.
Sentrale banke het groot hoeveelhede bykomende likiditeit in die geteisterde ekonomieë ingespuit deur handelspapier te koop, onkonvensionele bates as kollateraal vir lenings te aanvaar en hulp aan niebank- finansiële instellings te verskaf.
Die Suid-Afrikaanse ekonomie is ook getref deur die ongunstige internasionale ontwikkelings. In die eerste instansie, wat ook die geval met ander ontluikende markekonomieë was, het die daling in kommoditeitspryse ons uitvoere nadelig beïnvloed, op ’n tydstip toe ons probeer het om die lopende rekening van die betalingsbalans te verbeter deur invoere te verminder.
Tweedens, die groot portefeuljekapitaalinvloei wat die groot lopende rekeningtekorte die afgelope jare gedek het, het nou in volgehoue netto kapitaaluitvloei verander.
Derdens, kan die daling in die prysindeks van alle aandele van die Johannesburg Aandelebeurs die afgelope jaar ook regstreeks met die rampspoedige wêreldresessie verbind word.
Vierdens, weer in ooreenstemming met internasionale ontwikkelings, het die groeikoers in die Suid-Afrikaanse BBP van die 5%-vlak van 2005, 2006 en 2007 na ’n nederiger 1 – 2% gedaal.
Die pad na herstel
Vir die wêreld om na volhoubare ontwikkeling te beweeg, moet die volgende makro-ekonomiese wanbalanse weer in ewewig kom, wat ’n lang en pynlike proses gaan wees.
Dit is duidelik uit bostaande dat dit nie ’n maklike omgewing vir Fondsbestuurders en –beleggers is nie. Daarom is ons hoofdoel, te midde van al die onsekerheid, en in ooreenstemming met ons filosofie om steeds u kapitaal versigtig te beskerm en geduldig te wag voordat ons terug beweeg na aandele volgens ons Fonds se mandate.
Piet de Jongh en Pieter van Zyl
|
| REGISTERED USER COMMENTS |
| No comments posted for this article. |