PUBLISHER LINKS
My Wealth "Wealth through knowledge"
My publishing home page
View my blog
Subscribe to my newsletter      
Report this as offensive material

ARTICLE TITLE: Saamgestelde rente: die maklikste manier waarop enige iemand ryk kan word 05/07/10, 9:55 AM
Page views:
Author: Manus Moolman for My Wealth


Saamgestelde rente: die maklikste manier waarop enige iemand ryk kan word

Tensy mens ‘n groot erflating ontvang of die Lotto wen, moet jy hard werk om die inkomstebron te skep om finansieel onafhanklik af te tree. Een van die mees doeltreffende maniere om hierdie bron tot stand te bring, is vrylik tot ons almal se beskikking, maar omdat ‘n mens dit nie onmiddelik kan sien of waarneem nie, gebruik slegs ‘n klein persentasie van die bevolking dit. Diegene wat wel die voordele van hierdie krag verstaan en benut, tel onder die rykste van die rykes. Die beste voorbeeld is die mees suksesvolle belegger van alle tye, Warren Buffet. Buffet was ‘n student van die beleggingsfilosoof, Benjamin Graham aan die Universiteit Columbia in die VSA. Na sy studiejare het hy in 1957 familie en vriende oortuig om $105 000 in sy nuwe beleggingsonderneming te belê. Vandag is sy portefeulje meer as $20 miljard werd! Naas Bill Gates van Microsoft was Buffet die afgelope aantal jare die rykste mens ter wêreld.

Die werking van hierdie finansiële beginsel kan die beste verstaan word deur die volgende eksperiment uit te voer: Neem ‘n gewone eksamenskryfblok met 32 lyne. Skryf op die boonste lyn een sent neer. Op die volgende lyn verdubbel jy die sent om twee sent te word en op die volgende weereens om vier sent te word. Raai nou wat die antwoord sal wees indien jy tot op die twee-en-dertigste lyn só sou aanhou. Dalk R980.20, of selfs meer? Nee! Die antwoord verstom ‘n mens elke keer as jy dit hoor. As een sent 31 keer verdubbel word, is die antwoord R21 474 836! Dit is egter eers teen die einde van die berekeninge dat die bedrag al hoe groter en groter word. Op die twintigste lyn was die bedrag maar nog net R5 242.88. Herhaal die proses nog vir twaalf keer en die bedrag vermeerder tot die verstommende R21 474 836.48!

Hierdie verstommende beginsel staan as saamgestelde rente bekend. In ons eksperiment kom dit op ‘n verbysterende groeikoers van 100% per ongeveer 5.8 sekonde neer. Die vraag is of dit vir iemand wat welvaart wil skep enige nut het? Almal weet tog dat 100% groei nie in so ‘n kort tydjie, of selfs per jaar, moontlik is nie. Is dit bloot ‘n wiskundige feit, ‘n kuriositeit wat nie buite die abstrakte ruimte van ‘n vel papier nut het nie? Of kan ons dit tot ons voordeel aanwend?

Voordat ons kyk hoe saamgestelde rente in die praktyk toegepas kan word om welvaart te skep, kan ons voorlopig ‘n paar kernwaarhede uit die eksperiment leer:As die regte sisteem op klein getalle toegepas word, kan dit eksponensieel tot asemrowende waardes vergroot.

·     Aanvanklik is die mag van saamgestelde rente nie waarneembaar nie. Omdat die aanvangsbedrag so klein is, kan ‘n mens byna nie glo dat die eindresultaat so groot sal wees nie.

·     Baie geduld word benodig.

·     Die vermeerderingsproses moet gereeld en stelselmatig gebeur. Die tydperk en frekwensie van belegging is kernelemente van die formule om welvaart te skep.

·     Die persentasie waarteen die vermeerdering plaasvind, het ‘n groot invloed op die eindresultaat.

Kom ons toets die waarde van saamgestelde rente nou deur ‘n realistiese rentekoers te kies. Gedurende die afgelope twee dekades was die rentekoers op huisverbande dikwels meer as 14% per jaar. Gestel nou dat ‘n huiskoper wat 30 jaar oud is, tot op vyf-en-sestigjarige ouderdom R90.07 meer as die normale maandelikse verbandafbetaling betaal. Oor die tydperk sal hy in totaal R37 828 meer inbetaal. Hierdie klein bybetaling sal sy netto batewaarde egter met een miljoen rand verhoog! En dit is met ‘n daaglikse besparing van slegs ongeveer R3 en sonder veel kennis of moeite vermag! Met groter kennis kan jy hoër opbrengskoerse nastreef. Warren Buffet se beleggingsportefeulje het deur die jare met ‘n gemiddelde opbrengskoers van 23% per jaar gegroei. Teen hierdie groeikoers sou jou belegging van R90 per maand na dieselfde tydperk R13 641 829 werd wees!

Omdat R90 so min is, kan ‘n mens geneig wees om te dink dat dit te klein is om ‘n daadwerklike verskil aan jou welvaart te maak. As jy agterkom dat klein bedrae groot verskille in welvaart beteken, is jy op pad om skatryk te word. ‘n Eenvoudige formule om welvaart te skep, kan nou geformuleer word: “Die belegging van klein, maar gereelde bedrae, verander oor tyd in groot fortuine”.

Die effek van finansiële kragte is nie altyd onmiddelik waarneembaar nie, maar hulle is baie magtig. Die probleem is dat ‘n mens nie neutraal daarteenoor kan staan nie. Die kragte kan óf vir jou werk soos in die geval van saamgestelde rente óf dit kan teen jou werk soos in die geval van skuld.

Dink net daaraan: as jy, behalwe om ‘n bybetaling tot jou huisverbandpaaiement te maak, nog 9 maniere kan vind om jou netto batewaarde met ‘n miljoen rand te verhoog, het jy tien miljoen rand! Begin jy vroeër, het jy dalk R20 miljoen rand! Ons sal later sien dat dit vir ‘n jongmens wat begin werk, moontlik is om vir R21 474 836 te spaar – dieselfde bedrag as wanneer ‘n sent 31 keer verdubbel word. 

Gestel jy het jou eerste miljoen rand bymekaar gemaak en verdien 10% op die belegging. Dan sal jy teen die einde van jaar een R100 000 verdien sonder om daarvoor te werk! In jaar twee begin jy dan met R1 100 000 en ontvang op hierdie groter bedrag rente. Na vyf jaar sal hierdie belegging se waarde R1 610 510, en na tien jaar, R2 593 742 wees. Na vyf jaar behoort jy dus ‘n jaarlikse inkomste van R161 051 te verdien sonder om daarvoor te werk. Dít terwyl ander mense hard moet werk om hierdie jaarlikse inkomste te verdien. Weens saamgestelde rente groei jou kapitaal jaarliks meer en meer en word jy ryker en ryker.



REGISTERED USER COMMENTS
No comments posted for this article.


© 2012 All works are copyright of their respective owners and may not be copied without their respective permission. All rights reserved.