PUBLISHER LINKS
My eBroker "Wealth through knowledge"
My publishing home page
View my blog
Subscribe to my newsletter      
Report this as offensive material

ARTICLE TITLE: Verskans jou teen die finansiele bedrygings van 2010 03/08/10, 1:26 PM
Page views:
Author: Manus Moolman for My eBroker

Verskans jou teen die finansiële bedreigings in 2010

Die aanbreek van ‘n nuwe jaar kan vir verskillende mense verskillende dinge beteken. Mense met ‘n positiewe uitkyk op die lewe, sal uitsien na die geleenthede wat die jaar inhou en planne beraam om dit te ontgin. Diégene wat meer negatief is, kan dalk bekommerd wees oor al die probleme wat die moderne mens voortdurend in die gesig staar en wonder of daar ooit ‘n einde aan sal kom. Teen die agtergrond van voortslepende geweld, werkloosheid en onsekerhede wat ons persoonlike finansiële welstand bedreig, ontstaan die vraag onwillekeurig of diégene wat die silwer randjies om donker wolke sien, nie maar net in droomwêrelde leef nie.

 

Al is dit maklik om deur die negatiewe dinge in ons land oorweldig te word en voel dit soms asof ons unieke probleme het, moet ‘n mens besef dat ‘n vyandige omgewing so oud soos die geskiedenis van die mensdom is. Deur die eeue is verskillende strategië gevind om, ten spyte van eksterne bedreigings, sinvol te bly voortbestaan, maar selde is dit met soveel integriteit geformuleer as deur die briljante Joodse psigiater Viktor Frankl.

 

Viktor Frankl is tydens die Tweede Wêreldoorlog in Nazi konsentrasiekampe aangehou terwyl sy vader, moeder, broer en vrou in die kampe gesterf of na gaskamers gestuur is om dáár om te kom. Hy het alle materiële besittings verloor en het, terwyl hy koud en honger was, elke oomblik besef dat hy volgende kon sterf. In die kamp het hy opgelet dat, hoewel die meeste mense onder hierdie haglike omstandighede geestelik en intelektueel agteruitgegaan het, daar ook andere was wat geestelik  verdiep het – mense wat ‘n laaste stukkie brood aan ‘n medegevangene sou gee. Frankl se gevolgtrekking was dat enige mens, selfs onder omstandighede waarin ‘n mens jou skaars kan indink, kan besluit hoe om op bedreigings te reageer en wat van hom gaan word.

 

Hierdie beginsel is net so geldig met betrekking tot finansiële risiko’s – alhoewel ons nie die eksterne bedreigings wat in 2007 op ons wag kan beheer nie, kan ons besluit hoe om daarop te reageer. In Skep welvaart uit jou huidige inkomste – deur deskundiges se geheime te ontdek (Moolman: 2006), word strategië bespreek om ‘n mens te posisioneer om geleenthede te ontdek en jouself teen finansiële rampe te verskans. Hier sal slegs enkele risiko’s genoem en kortliks bespreek word. 

 

Die eerste risiko wat ons finansies ten nouste raak, is die bekende probleem van inflasie. Hierdie verskynsel kan ‘n mens se vermoë om jou lewenstandaard te handhaaf, drasties verminder. ‘n Vyf-en-sestig-jarige wat sy lewenstandaard onveranderd wil hou en op 65 met ‘n pensioen van R12 000 per maand aftree, moet, teen ‘n inflasiekoers van 5% per jaar, op 75, R19 547 verdien en op 85, R31 839. Die probleem is dat 75% van pensioenfondse in Suid-Afrika teen ‘n laer koers as dié van inflasie styg. ‘n Mens behoort dus ‘n inkomstebron daar te stel met ‘n hoër koers as dié van inflasie.

 

‘n Aspek wat nét so ‘n groot invloed op ons finansies uitoefen, is die heersende rentekoerse. Rentekoerse beïnvloed ons op verskillende maniere. Styg rente, strek dit tot voordeel van mense wat van rente-inkomste afhanklik is. Vir hierdie mense is dalende rentekoerse naturlik negatief, maar dit kan positief wees vir mense wat ‘n dividend inkomste uit aandele verdien aangesien die prys van aandele geneig is om gedurende lae rentekoerse te styg. Selfs konserwatiewe beleggers kan dit oorweeg om aandeelblootstelling aan ten minste ‘n klein gedeelte van hulle beleggingsportefeulje te gee.

 

Die ekonomiese siklus is ook iets waaroor individue nie beheer het nie, maar waardeur hulle vermoë bepaal word om hulle lewenstandaard te handhaaf. Die ekonomie van enige land gaan deur ‘n opeenvolging van hoogte- en laagtepunte. In ekonomiese opswaaifases maak maatskappye meer wins, en is die kans goed dat aandeelpryse sal styg. Indien die ekonomie op ‘n hoogtepunt is en die waarde van aandele gestyg het, raak dit weer gevaarlik  om geld te belê, omdat die siklus in die toekoms weer kan daal. Indien op ‘n laagtepunt belê word, net voor die volgende opswaaifase, is die risiko minder aangesien die waarde van die aandele kan styg. Die potensiaal bestaan dan om ‘n stewige wins te maak.

 

‘n Verwante aspek is die marksrisiko. Dit beteken dat genoteerde maatskappye se aandeelprys op gebeure reageer waaroor die bestuur van die maatskappy nie beheer het nie. ‘n Terroriste aanval 10 000 km van Suid-Afrika af, kan beleggers byvoorbeeld tot só ‘n mate die skrik op die lyf jaag dat hulle aandele verkoop en die prys daarvan daal selfs al is die vooruitsig vir die maatskappye uitstekend. Só ‘n situasie is juis voordelig vir nuwe beleggers aangesien aandele van uitmuntende besighede teen weggee-pryse gekoop kan word.

 

Die wisselkoersrisiko kan ook ‘n groot positiewe óf negatiewe invloed op ‘n mens se welvaart uitoefen. Toekomsbeplanning word bemoeilik wanneer die waarde van die rand baie teen groot geldeenhede varieer. Met ‘n onbestendige rand is dit vir besighede wat internasionaal handel dryf, moeilik om te begroot. Ook individue kan negatief geraak word deur skommelinge in die wisselkoers. ‘n Belegging in Sanlam se International Money Market US$-fonds het byvoorbeeld in 2004 as gevolg van ‘n sterker rand met 24.1% gedaal! Geldmarkbeleggings is van die veiligste beleggings wat gemaak kan word, maar die wisselkoersrisiko was vir die daling verantwoordelik.  

 

In ‘n vryemarkekonomie het finansiële instansies magtige bemarkingsmasjienerie om hulle primêre doelwit van maksimum wins te bereik. Soveel moontlik produkte moet verkoop word, maar omdat finansiële produkte nie tasbaar is of onmiddelik geniet kan word nie, is dit nie hoog op die begeertelys van verbruikers nie en moet spesiale metodes aangewend word om dit te verkoop. Finansiële adviseurs en makelaars verkeer onder aansienlike druk van versekeringsmaatskappye om groot volumes besigheid te doen. Haal bemarkers nie die verkoopsmikpunte van die instellings nie, kan hulle kontrakte opgeskort word en staar hulle werkloosheid in die gesig. Aangesien selfbehoud ‘n basiese menslike eienskap is, is dit seker nie vreemd dat aggressiewe bemarking en selfs dwangverkope deel van die operasionele kultuur van bemarkers van finansiële produkte word nie.

 

Die feit dat die resultate van die produkte selde gewaarborg kan word en indien daar wel ‘n kapitaalwaarborg is, die reële voordeel daarvan vir verbruikers deur veranderlikes soos die inflasiekoers beïnvloed word, verhoog die moontlikheid dat makelaars en adviseurs die voordele van finansiële produkte uitermate benadruk terwyl minder klem op die nadele gelê word. ‘n Ewewigtige bespreking van beleggingsprodukte is geensins ‘n goeie bemarkingstrategie nie, hoewel dit die beste wyse is om te verseker dat die belegging aan die verbruiker se behoeftes voldoen. Verbruikers moet besef dat dit naïef is om te dink dat produkte bestaan wat net positiewe eienskappe het. Die oplossing is kennis van die basiese finansië konsepte.

 

Daar word ‘n magdom beleggingsprodukte aangetref wat myns insiens hoofsaaklik deur die bemarkingsideaal van maksimum wins geïnisieer word. Nie net is daar tans meer as 600 effektetrusts in Suid-Afrika nie, maar elke versekeringsmaatskappy het ook reekse beleggingsprodukte en binne hierdie produkte is daar weer samestellings van verskillende ander produkte – elk met ‘n glansryker brosjure as die vorige! Die voornemende belegger bevind hom in ‘n verwarrende labirint waarin dit moeilik is om ‘n keuse te maak wat die beste aan sy behoeftes voldoen. Wanneer resultate van die onderliggende bates waaruit die produkte saamgestel is, vergelyk word met die resultate van beleggingsprodukte ná die beleggingskoste afgetrek is,  begin ‘n mens twyfel of daar veel waarde by baie van die saamgestelde produkte gevoeg word en of dit nie maar beter sou wees om direk in die onderliggende bates te belê nie.

 

Aan die begin van ‘n nuwe jaar, is die uitdaging vir Suid-Afrikaners om bedreigings vierkantig in die oë te kyk, proaktief daarop te reageer en kennis uit te brei. ‘n Mens behoort nie só deur bedreigings op loop gejaag te word dat jy nie die talle geleenthede wat daar wel  bestaan, opmerk nie. Om geleenthede tot jou voordeel aan te wend, is ‘n positiewe visie, inisiatief deeglike beplanning nodig.

 

Saam hiermee, moet risiko’s berekenend ondersoek word om te bepaal vir hoeveel risiko ‘n mens kans sien in die najaging van ‘n bepaalde opbrengskoers. Die primêre doelwit behoort te wees om kapitaal te beskerm, maar ‘n belangrike sekondêre doelwit moet wees om inflasie gerieflik te klop. Dit beteken dat moed en deursettingsvermoë nodig is om planne deur te voer en dat genoeg geduld aan die dag gelê moet word.

 

Finansiële sukses kan dikwels deur klein verstellings bereik word. Kom ons kyk watter voordeel ‘n opbrengskoers wat slegs 3% beter is, vir ‘n denkbeeldige belegger inhou: Gestel die inflasiekoers is 5% en ‘n belegger belê R1-miljoen. Indien hy wil hê dat die koopkrag van sy geld konstant moet bly en die inkomste dus met inflasie tred moet hou, sal hy met ‘n groeikoers van 7% veilig R1 666 kan onttrek en met ‘n groeikoers van 10%, meer as die helfte meer, naamlik R 4 166!

 

‘n Nuwejaarsvoorneme om ‘n mens se finansiële kennis uit te brei en jou finansies meer aktief te bestuur, sal gewis verbeteringe aanbring waarby ‘n mens vir die res van jou lewe sal baat. ‘n Belegging in kennis, is ‘n belegging in persoonlike welvaart.


Iets oor die skrywer:  Dr. Manus Moolman is die besturende direkteur van My Welvaart, 'n firma wat ten doel het om mense finansieel vry te maak. Hy het reeds die volgende boeke gepubliseer: Skep welvaart uit jou huidige inkomste ..., Finansiele onafhanklikheid vir die boer en 9 Beginsels vir welvaartskepping. Manus is ook die redakteur van My Welvaart / My Wealth, 'n gratis elektroniese tydskrif. Vir meer inligting en om op die tydskrif in te teken, kan My Welvaart se webtuiste by www.myebroker.info besoek word. 

 


 

 

 

 


REGISTERED USER COMMENTS
No comments posted for this article.


© 2011 All works are copyright of their respective owners and may not be copied without their respective permission. All rights reserved.