|
Hoeveel geld is vir jou genoeg?
Almal wil baie geld hê, maar as mens iemand pertinent vra hoeveel vir hom genoeg is, kry jy gewoonlik nie ‘n direkte antwoord nie. As 'n mens nie presies weet hoeveel geld jy wil hê nie, is die probleem dat jou doelwit nie duidelik is nie en vae doelwitte is per definisie nie bereikbaar nie. Om jou doelwit om genoeg geld te hê, duidelik te formuleer, moet ‘n bietjie huiswerk gedoen word.
Persoonlike welvaart word gemeet deur laste van bates af te trek. Die antwoord is jou netto batewaarde. Indien al jou bates byvoorbeeld R1 300 000 werd is en jy skuld R600 000, is jou netto batewaarde R700 000. Indien jou skuld met die helfte tot R300 000 verminder, is jou netto batewaarde een miljoen rand en is jy tegnies ‘n miljoenêr - nie dat dit vandag meer genoeg is om mee af te tree nie! ‘n Mens se netto batewaarde moet met meer as die inflasiekoers verhoog om welvaart te skep. Dit kan gebeur deur skuld te verminder of die waarde van jou bates te verhoog.
‘n Hoë netto batewaarde is ongelukkig nie al wat nodig is om as welvarend beskou te word nie. Gestel iemand het ‘n uitsonderlike duur huis, baie luukse voertuie en waardevolle meubels. Hy of sy het geen skuld nie en sal dus ‘n hoë netto batewaarde hê. Sonder ‘n gereelde inkomste egter, sal noodsaaklike maandelikse uitgawes nie gedelg kan word nie. Dit is voor die hand liggend dat ‘n mens ten minste ‘n groot genoeg inkomste moet verdien om jou maandelikse begroting te laat klop.
Is die gevolgtrekking dan dat iemand met ‘n hoë netto batewaarde en ‘n hoë inkomste genoeg geld het? Nie noodwendig nie. Dit is verstommend, maar hierdie mense kan óók finansiële probleme ontwikkel. Die rede hiervoor vind ‘n mens in ‘n kernbeginsel van die ekonomie: Menslike behoeftes is altyd groter as die middele om dit te bevredig. Iemand aan die onderkant van die inkomsteskaal hunker dalk daarna om ‘n voertuig te besit, al is dit die goedkoopste tweedehandse bakkie wat hy kan bekostig. Effens hoër op die inkomsteskaal is die hunkering na ‘n klein, maar nuwe voertuig. Nóg hoër ‘n duurder voertuig, dan ‘n luukse Duitse motor en nog hoër nóg ‘n luukser motor en dalk ook nog ‘n strandhuis. Met die soort inkomste wat die filmster, Marlon Brando, verdien het – byvoorbeeld $14 miljoen (R86m. vandag) vir ‘n kort verskyning in Superman – kon hy vir hom ‘n Sandsee eiland koop. Nogtans het hy voortdurend geldprobleme gehad. In Maart 2005 is berig dat die popsanger, Michael Jackson, ‘n koopslaaf is wat op die rand van bankrotskap staan en meer as $400 miljoen skuld! Om luukse verbruikersitems met jou geld te koop, mag jou dalk ryk laat voel en lyk, maar dit maak jou in werklikheid al hoe armer.
Hoe kan ‘n mens dan ooit finansieel onafhanklik raak indien selfs mense met inkomstes soos dié van die Marlon Brando en Michael Jackson finansiële probleme ontwikkel het? Die antwoord is dat finansiële onafhanklikheid nie aan ‘n vaste bedrag gemeet kan word nie. ‘n Mens is finansieel onafhanklik wanneer jy nie meer hoef te werk vir die geld wat jy benodig om jou lewenstandaard in stand te hou nie. As jy R10 000 per maand uit ‘n passiewe inkomstebron ontvang en net R9 000 per maand bestee, is hy finansieel onafhanklik. As iemand anders R40 000 uit ‘n inkomstebron ontvang, maar hy bestee R50 000 per maand, is hy nie finansieel onafhanklik nie.
Die eerste stap om finansieel onafhanklik te word, is dat jy ‘n surplus inkomste moet skep. Dit kan gedoen word deur jou inkomste te verhoog, jou uitgawes te verlaag of albei – solank jou netto inkomste verhoog. Die tweede stap is dat die surplus in ‘n bate belê moet word wat uiteindelik ‘n inkomste sal lewer wat so groot sal wees dat jy nie hoef te werk nie.
Die ideaal waarna mens behoort te streef, is dat die rente wat jy uit die passiewe inkomstebron verdien, hoër is as die onttrekkings wat jy daaruit maak. Só sal die inkomstebron al hoe groter en groter word en omdat die inkomstebron groter word, sal die inkomste dienooreenkomstig groei. Gestel jy het ‘n belegging van drie miljoen rand en maak ‘n onttrekking van 5% jaarliks daaruit. Jy sal dan ongeveer R12 500 per maand ontvang. Indien jou belegging teen 10% per jaar groei, sal jou kapitaal met 5% groei. Die volgende jaar sal die 5% wat jy onttrek, dan ongeveer R13 000 wees aangesien jou inkomstebron nou 5% groter is.
Hier volg ‘n kritieke punt in welvaartskepping: Aanvanklik moet soveel moontlik addisionele fondse in die kapitaalbron geplaas word. Wanneer mense addisionele geld in die hande kry, is die eerste reaksie gewoonlik om dit te spandeer. Indien die geld egter by die kapitaalbron gevoeg word, lei dit op die lang duur tot ‘n hoër inkomste. Die geduld wat nodig is om daarvoor te wag, sal ryklik beloon word.
Iets oor die skrywer: Dr. Manus Moolman is die besturende direkteur van My Welvaart, 'n firma wat ten doel het om mense finansieel vry te maak. Hy het reeds die volgende boeke gepubliseer: Skep welvaart uit jou huidige inkomste ..., Finansiele onafhanklikheid vir die boer en 9 Beginsels vir welvaartskepping. Manus is ook die redakteur van My Welvaart / My Wealth, 'n gratis elektroniese tydskrif. Vir meer inligting en om op die tydskrif in te teken, kan My Welvaart se webtuiste by www.myebroker.info besoek word.
|